Alexander McCall Smith in Afrikaans
Rapport - 31 May 2009
Jy kan maar weet iemand is besig om 'n Alexander McCall Smith te lees as jy hom iewers, boek in die hand, met so 'n ingenome, versadigde glimlag op sy bakkies betrap.
Dis nie omdat die stories, wat almal uit Botswana se No. 1-Vrouespeur-agentskap voortspruit, nou juis so snaaks of vrolik is nie. Of dat Mma Precious Ramotswe, die hoofkarakter in hierdie reeks wat al ver verby die 30 miljoen in Engels alleen verkoop het - nou juis so komies of hansworserig is nie. Inteendeel. Daar's wragtag niks lafs aan Precious Ramotswe van Zebra-rylaan in Gaberone nie. Sy, met haar ruim hart en nóg groter gestalte (sy's nie vet nie, net "tradi-sioneel gebou") is een van daardie tipiese raakvat-hiertjy-moenie-met-my-mors-nie-Afrika-mamas. Maar met 'n liewe hart. En, in tipiese Afrika-vroue-tradisie, is sy een wat verstaan dat vroue die hegpleister van die samelewing is, wat eintlik, agter die mans se rûe om, die broekdraers is. Die sukses van haar speurderybesigheid berus op haar eie goeie mensekennis, 'n forse onafhanklikheidsin, behoorlike sin vir waardes, goeie maniere en 'n skerp kop.
In Engels trek hierdie geliefde reeks al by sy tiende boek. En nou is daar vir Afrikaanse aanhangers die goeie nuus dat Mma Ramotswe ook in die boeretaal verskyn - of altans die eerste drie tot dusver, naamlik Die No. 1-Vrouespeur-agentskap, Die kameelperd se trane en Mooi meisies se morele dilemmas. Almal vertaal deur Erna du Toit.
Wat ís dit wat Alexander (of Sandy soos hy algemeen bekend staan) McCall Smith se boeke so gewild maak?
Hy self is 'n afgetrede professor in iets so droog soos regte. Mediese reg, boonop. En takseer jy hom so op sy gekreukelde baadjie, lyk hy soos daai tipiese proffies wat te veel pruimedante gesluk het. Tot hy sy wit hoed opsit en sy mond oopmaak. Dan lag jy tot jy miltsteek kry.
Selwers, bieg hy dan, weet hy nie eintlik hoekom sy boeke so gewild is nie, want daar gebeur nie juis veel nie. En as daar die keer te véél niks gebeur nie, laat hy die karakters maar tee drink. In Mma Ramotswe se geval is dit rooibostee. Want ofskoon dit oor Botswana se enigste private vrouespeurder handel, 'n PI wat misteries moet oplos wat wissel van vermiste kinders tot regeringsamptenare wat te dik word oor hulle vermoedelik kos steel, is die stories eintlik sagaardige verhaaltjies van gewone mense en hul soms eienaardige gedrag.
Volgens die New York Times Book Review is sy die Miss Marple van Botswana (na aanleiding van Agatha Christie se reeks moordstories oor die goedige ou busy-body-tante met haar breiwerk). Hier is dus geen sprake van nare, kannibalistiese reeksmoordenaars en lewensmoeë speurders met drankprobleme nie.
Dis eerder alledaagse lewensraaisels en morele kwessies wat deur Mma Ramotswe se praktiese natuur en empatiese geaardheid opgelos word.
McCall Smith vertel juis by 'n onlangse Kaapse Boekeskou dat 'n leser gekla het dat daar te min aksie is en 'n jaagtoneel gebedel. Met karre. Die proffie het gesug: Mma Ramotswe ry in 'n klein wit bakkietjie, een waarvan die vere swaar werk onder haar gewig. Fiétsryers steek haar klokslag verby. So hoe dan nou? Toe skep hy maar 'n jaagtoneel met trollies in 'n supermark!
"Dis seker die mees opwindende toneel wat ek nog ooit in my lewe geskryf het," lag hy.
Die stories vertaal uitstekend in Afrikaans, hoewel die eerste boek nog nie heeltemal daarin slaag om die speelse humor oor te dra nie. Tog sit die karakters en hul baie ordentlike, goed opgevoede en byna formele taalgebruik baie goed in die Afrikaanse saal.
McCall Smith sê hy is bitter opgewonde oor die feit dat sy boeke uiteindelik in Afrikaans verskyn. Hy het verskeie baie goeie Afrikaanse vriende en sluit sy briewe altyd af met 'n vrolike "alles van die beste".
"Dis 'n interressante en lewendige taal, met 'n fassinerende geskiedenis. Natuurlik was daar 'n tyd toe dit met ongenaakbaarheid en onverdraagsaamheid vereenselwig is. Maar vandag is dit die taal van 'n groep mense wat uit eie oorweging oorgegaan het tot versoening en heling. Die Afrikaners is 'n indrukwekkende spulletjie en gaan 'n groot bydrae tot die toekoms van die land lewer. Daaroor het ek absoluut geen twyfel nie."
Hy grinnik as 'n mens vra hoeveel boeke hy nog oor Mma Ramotswe en haar geliefde, mnr. J.L.B. Matekoni van Tlokweng Road Speedy Motors, gaan skryf.
"Ek ly aan reeksskryfsiekte," het hy onlangs by die Kaapse Boekeskou gebieg. "Dis 'n gevaarlike siekte met terminale implikasies. Patrick O'Brian (die bekende Ierse skrywer) het twintig romans geskryf. En hy's toe dood! So, dis een van daai dinge. Jy hou kompulsief aan skryf en dan sterf jy." McCall Smith se publikasielys trek al by oor die 60 - waaronder ook 'n paar swaargewig akademiese werke.
"Ek weet dat Afrika dikwels uitgebeeld word as die kontinent van ellende en wanhoop. Maar ek het ook die ander kant van Afrika beleef, die gulhartigheid van die mense, die borrelende vreugde, die trots in goeie waardes en moraliteit." En op hul unieke, rustige manier, spreek sy boeke tog die groter kwessies aan van vigs en armoede en honger, maar raak nooit prekerig nie. Die klem bly deurgaans op die goedige en humoristiese.
Hy word dikwels beskryf as die lieflingskrywer van skrywers: Marian Keyes, die bekende chicklit-skrywer, sê in 'n volgende lewe wil sy terugkom as 'n skoothondjie. Sodat sy iedere dag aan die voete van oom Sandy kan lê. Sy kan gerus maar. Sy gaan maatjies hê. En daai woefies gaan Afrikaans blaf.
For other news articles click here
