Sussie Veer is dood en ander verhale reviewed by Lona Gericke (IBBY)

Titel: Sussie Veer is dood en ander verhale
Saamgestel deur: Riana Scheepers en Rachelle Greeff
ISBN: 9780636094970

Wat 'n prag versameling van  25 kortverhale deur  bekende en talentvolle skrywers, elkeen in eie reg! Onder andere bevat dit 'Johanna Magdalena Matthee' deur Annami Simon, wat 'n eerste plek gewen het in MML se kortverhaal kompetisie; ''n Bed vir Johnny' deur Jeanetta Basson, 'n tweede plek wenner; en 'Verneukkind' deur Fanie Viljoen, 'n derde plek wenner in hierdie kompetisie.

Riana Scheepers in die voorwoord tot die bundel skryf tereg dat die 'uitdagings van die Suid-Afrikaanse werklikheid meermale die verhaalgegewe van hierdie verhale is'. Maar sommer met intrap se lees word die leser telkemale getref deur die eenvoud, die deernis, en ook die humor waarmee die skrywers hulle stories vertel. 

Elkeen het 'n besondere verhaal, een of ander gebeurtenis of karakter wat so 'n indruk op hulle gemaak het dat hulle daaroor moes skryf, soos Sussie Veer wat in 'n sepie gespeel het, en dood is : 'Van waar Sussie in die begraafplaas op die heuwel lê, kan sy darem die see sien, het ek myself getroos.'

Hierdie is 'n versameling kortverhale van baie hoë gehalte. Dit is uitstekende materiaal om vir skole voor te skryf. Hoogs aanbeveel.